Waarom Oudtshoorn Rotary Aftree-oord?
Die Oudtshoorn Rotary Aftree-oord is langs die Grobbelaarsrivier in een van die rustiger dele van ons plattelandse dorp geleë, maar binne stapafstand van die sakekern. Die historiese hangbrug oor die rivier is ’n bekende baken digby die oord. Hierdie oord spog met pragtige, boomryke tuine waar inwoners veilig en met die grootste gemoedsrus kan ontspan, stap of fietsry – werklik ’n paradys in die kleine.
Die oord is in 1993 as ’n projek van die Rotariër Klub van Oudtshoorn beplan en vandag is hulle steeds aktief en geesdriftig by die bestuur van die oord betrokke. Altesaam 120 ruim, doelmatige wooneenhede verskaf onafhanklike verblyf aan ons inwoners. Die hoofgebou is sentraal geleë en bestaan uit ’n eetsaal en veeldoelige sitkamer/lesinglokaal wat gereeld volgens behoefte vir funksies aangepas word, ’n versorgingseenheid, haarsalon, administratiewe kantore, ’n biblioteek, kombuis en washuis.
Oudtshoorn Rotary Aftree-oord voldoen aan al die bepalings en vereistes van die tersaaklike wetgewing ten opsigte van die verblyf en versorging van ouer persone. As u 55 jaar of ouer is en op soek is na veilige, kommervrye verblyf waar daar ook ruim voorsiening gemaak word vir u geestelike, liggaamlike en sosiale behoeftes, dan is Oudtshoorn Rotary Aftree-oord u antwoord.















